Bejaarde Okahandja-egpaar in huis aangeval

‘n Bejaarde egpaar is in die vroeë oggendure Sondag in hul huis in Waterweg, Okahandja deur vier rowers gewapen met messe aangeval. Volgens die polisie het die rowers by die motorhuis ingebreek en die veiligheidshek oopgekry terwyl die egpaar geslaap het. Hulle het die man aangerand en die vrou brutaal vasgekeer. Die rowers het weggekom met onder meer ‘n blou Ford Fiesta, ‘n swart 7.65-millimeter pistool, 2 000 Namibiese dollar in kontant, ‘n skootrekenaar, juweliersware en beddegoed. Die egpaar het tussen hulle ‘n gebreekte been, snye aan albei arms en kneusplekke oral oor hul liggame opgedoen. Hulle is na die private hospitaal in Okahandja geneem. Niemand is nog gearresteer  nie.