Bejaarde egpaar blykbaar deur kleinkind, tradisionele geneser geskiet
Die Namibiese polisie het ‘n opdatering gegee in verband met sy ondersoek na die skietvoorval van ‘n bejaarde egpaar by die Mubushe-nedersetting in die Kavango Oos-streek. Die twee, 92 en 84 jaar oud, is op 11 September geskiet. Die 84-jarige vrou het oorleef maar haar man is oorlede. Twee verdagtes is aangekeer. Die een is die slagoffers se 30-jarige kleinkind. Hy is gearresteer met die hulp van die Angolese polisie na hy na die buurland gevlug het en die ander, ‘n 38-jarige selfverklaarde tradisionele geneser, het homself aan die polisie oorhandig. Hy het ook na Angola gevlug maar het skelm teruggekeer na Namibië en lede van die gemeenskap het die polisie ingelig. Die moordwapen, ‘n AK47, is gevind, met ammunisie.