Beesboere kan juig oor onderskrywing deur wêreldorganisasie

Die Namibiese vleissektor, wat wêreldwyd geprys word vir sy premium gesondheidstandaarde en superioriteit, het weereens ‘n massiewe hupstoot gekry nadat die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid die land se status as ‘n beestuberkulosevrye sone onderskryf het. Namibië het onlangs sy selfverklaarde status van geen beestuberkulose deur die veeartsenydienste-direktoraat aan die organisasie voorgelê vir ondersoek en moontlike onderskrywing deur publikasie op sy webwerf. Dit is ‘n waarmerk van sertifisering in die wêreldwye dieregesondheidsarena. Dr Theuns Laubscher, ‘n veearts by die Windhoek Veeartsenykliniek, het met Kosmos 94.1 Nuus gesels en sê Namibiese vleis kan nou makliker in die buiteland bemark en uitgevoer word.