Beer gevang wat drawwer in Italië doodmaak

Die beer wat ‘n man doodgemaak het terwyl hy in ‘n woud naby ‘n bergdorpie in Trentino in Noord-Italië gedraf het, is gevang. Die owerhede sê die beer, ‘n 17-jarige wyfie is gevang en na ‘n wildtuin in Castellar geneem. Die beer het die 26-jarige Andrea Papi aangeval en doodgemaak terwyl hy gedraf het. Hy was die eerste persoon in Italië wat in moderne tyd deur ‘n beer doodgemaak is. Dieselfde beer het ook twee stappers, ‘n pa en ‘n seun, in 2020 aangeval. Die hof sal na verwagting op 11 Mei besluit of die beer van kant gemaak moet word.