Baynes hidroëlektriese aanleg word ‘n werklikheid

Ontwikkeling van die 881-megawatt Baynes hidroëlektriese aanleg in die benede-Kunenerivier waardeur Namibië en Angola elektrisiteit sal deel, tel uiteindelik spoed op. Die twee lande se elektrisiteitsministers het by ‘n bilaterale vergadering by die Lauca hidrodam verskeie aspekte van die ontwikkeling goedgekeur. Dit sluit in die ontwikkeling van ‘n bykomende regulerende dam 12km stroomaf van die hoofdam, wat ook as ‘n brug sal dien. ‘n Gesamentlike Baynes Projek Implementeringseenheid sal gestig word, met ‘n kantoor in of Windhoek of Luanda, wat ‘n gesamentlike bankrekening sal bestuur. Beide regerings sal bydra tot die eenheid se begroting. Daar is ooreengekom dat die publieke ontwikkelingsmodel teen September vanjaar deur beide regerings oorweeg en onderskryf word; en dat Namibië hierdie maand gasheer sal wees vir ‘n gesamentlike hersieningsvergadering van die implementasie-ooreenkoms, wat in Julie geteken sal word. Die Baynes transmissie interkonneksie lewensvatbaarheidstudie sal na verwagting teen middel 2025 gereed wees.