Australië help Oekraïne met nóg miljoene

Australië gaan nog hulpverlening van bykans 74 miljoen Amerikaanse dollar aan Oekraïne gee. Dit sluit onder andere 70 militêre voertuie in. Die Australiese eerste minister, Anthony Albanese sê sy regering het sedert Rusland se inval in Februarie 2022, hulp ten bedrae van 790 miljoen Australiese dollar aan Oekraïne gegee. Albanese het dit by ‘n mediakonferensie in Canberra aangekondig. Hy sê dié besluit oor verdere hulpverlening was reeds geneem, en hou nie verband met die naweek se gebeure in Rusland toe swaargewapende huursoldate van die Wagner-groep tydelik die Russiese stad, Rostov, beset het nie.