Australië brand reeds, somer nog nie begin nie

Tientalle brande woed aan die ooskus van Australië tydens ‘n lente hittegolf, met inwoners wat gedwing word om hulle huise te ontruim. Sydney sal na verwagting ‘n nuwe September-hitterekord bereik. Uiterste brandgevaarwaarskuwings is uitgereik vir die groter Sydney en Hunter-streek weens die warm en winderige toestande. Byna 700 brandbestryders en 30 waterbomvliegtuie en -helikopters word ingespan om die brande te bestry. Brande het ook in Queensland en Tasmanië uitgebreek.