AU verwerp enige inmenging buite Afrika in Niger
Die Afrika-unie het Niger uit al sy bedrywighede geskors in reaksie op die onlangse staatsgreep in dié land. Die AU het in ‘n verklaring weer ‘n beroep op die leiers van die militêre staatsgreep gedoen om die afgesette President Mohamed Bazoum vry te laat en na hulle barakke terug te keer. Die AU sê hy het ook kennis geneem van die Wes-Afrikaanse ekonomiese blok, Ecowas, se besluit om ‘n bystandsmag gereed te kry vir moontlike militêre ingryping in Niger. Die AU sê al die implikasies van sodanige ingryping moet eers oorweeg word. Die AU het ook beklemtoon dat hy enige inmenging van ‘n groep of land buite die vasteland verwerp.