Astrofisikus hou praatjie in Windhoek oor swart gat
In 2019 het professor Heino Falcke, ‘n astrofisikus aan die Radboud Universiteit in Nederland, die eerste foto van ‘n swart gat of gravitasiekolk aangebied, wat uiteindelik ‘n swart gat “sigbaar” gemaak het. Die merkwaardige prestasie is selfs meer besonders omdat Namibië ‘n beduidende rol speel in die bevordering van navorsing op hierdie gebied. Die Afrika Millimeter Teleskoop-span het met behulp van die Radboud Universiteit die eerste en enigste mobiele planetarium na Namibië gebring. Die planetarium, wat deur Unam-studente bedryf word, is ‘n opblaaskoepel wat toelaat dat interaktiewe beelde van die naghemel en die heelal aan die binnekant geprojekteer word. Professor Falcke sal ‘n praatjie op 24 Februarie om half-sewe die aand by die Windhoek Afrikaanse Privaatskool aanbied. Dr. Riaan Steenkamp, hoof van die fisika-departement van Unam, het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat.