Arsenal se oorwinning in doodsnikke inspireer hulle

Mikel Arteta sê Arsenal se dramatiese oorwinning in die doodsnikke teen Leicester sal die karakter van die span bou terwyl hulle voorberei vir vandag se Kampioeneliga-wedstryd teen Paris Saint-Germain. Die Gunners se twee doele in beseringstyd Saterdag het hulle 4-2 laat seëvier en hulle is na die naweek derde in die Premierliga, een punt agter die voorlopers, Liverpool. Arsenal is vandag gashere by die Emirates vir die Franse kampioene, PSG, in ‘n ligafase-wedstryd in die Kampioeneliga en hoop op hulle eerste oorwinning in die kompetisie hierdie seisoen. Daar was geen doele in die gelykop-uitslag teen Atalanta nie.