Armste inwoners trek swaarste onder korrupsie: EU-ambassadeur

Die tweede TAIEX-werkswinkel oor anti-korrupsie wat gesamentlik deur die Europese Unie in Namibië en die Anti-Korrupsie Kommissie gereël is, het ten einde geloop. ‘n Hoëvlak-dinee is deur Ana Beatriz Martins, die EU-ambassadeur in Namibië, aangebied om belanghebbendes in te lig oor die sleutelaanbevelings wat gemaak is om Namibië se pogings om korrupsie te bekamp en goeie institusionele bestuur te verbeter. Die dinee is deur hooggeplaastes bygewoon soos justisie-minister Yvonne Dausab, die direkteur-generaal van die teenkorrupsie-kommissie Paulus Noa, asook verskeie ambassadeurs van EU-lande. Martins het gepraat oor die uitwerking van korrupsie en sê die armstes in die land word die ergste daardeur geraak.