Antibiotika: Boere vra opleiding eerder as skedule aanpassing

Verteenwoordigers van die Lewendehawe Produsente Organisasie is vroeër vanjaar ’n kans gegun om skriftelike aanbevelings te maak aan die Namibiese medisynereguleringsraad aangaande die voorgestelde herskedulering van antibiotika vir veeartsenykundige gebruik vanaf skedule 0 na 2. Volgens die prosudente word opleiding van die eindverbruiker oor die verantwoordelike gebruik van antibiotika, tesame met verhoogde rekordhouding, as die beter opsie beskou. Produsente het veral kommer oor die beskikbaarheid van die medikasies op skedule 2 veral in afgeleë landelike gebiede waar veeartse nie noodwendig beskikbaar is nie. Die bespreking is gereël in verband met weerstand wat opbou omdat medikasies moontlik oorgebruik word.