Antarktika se situasie beroerd

Byna 1 500 akademici, navorsers en wetenskaplikes wat in Antarktika spesialiseer, het hierdie week in die suide van Chili byeengekom vir die 11de Wetenskaplike Komitee oor Antarktiese Navorsing-konferensie om die nuutste navorsing van die vasteland te deel.
Byna elke aspek van die wetenskap, van geologie tot biologie en gletsiologie tot kunste, is gedek, maar daar is nie net goeie nuus nie. Antarktika is besig om te verander, vinniger as wat verwag is. Met gedetailleerde weerstasie- en satellietdata wat sowat 40 jaar terug dateer, begin wetenskaplikes nou wonder of Antarktika ‘n kantelpunt bereik het.
NASA se skattings wys die Antarktiese ys is genoeg om die globale gemiddelde seevlak met tot 58 meter te verhoog.