ANC wil Brics-beraad verskuif

President Cyril Ramaphosa het Woensdagaand telefonies met die Russiese President Vladimir Putin gepraat. Die Kremlin sê die twee leiers het kwessies bespreek wat verband hou met die oorlog in Oekraïne, sowel as voorbereidings vir die tweede Rusland-Afrika-beraad wat die einde van die maand in St Petersburg gehou word. Die Brics-beraad wat in Augustus sal plaasvind het ook onder die loep gekom en uit Suid-Afrika word berig dat die ANC poog om die beraad na ‘n sekondêre land toe te verskuif. Die DA sê dit is die duidelikste teken nog dat die ANC eerstens nie verantwoordelikheid kan neem nie, en tweedens dat hy nie bereid is om sy wettige verpligtinge na te kom in verband met die Rome-statuut nie. Die beraad is vir die Brics-staatshoofde maar Putin moet ingevolge die statuut, in hegtenis geneem word. Die kwessie is reeds ‘n geruime tyd in die nuus in die buurland.