ANC berei sy dagvaardiging teen De Ruyter voor

Die ANC sê sy regspan finaliseer die dokumente om die gewese uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, vir laster te dagvaar. In ‘n onderhoud het hy beweer die kragverskaffer was ‘n voedingsbron vir die regerende party. Die ANC het verlede week ‘n opdragbrief aan De Ruyter en Eskom uitgereik en beide partye het tot gister kans gehad om die uitsprake te herroep en om verskoning te vra. Die ANC se prokureur, Krish Naidoo, sê skadevergoeding word bereken as die finale stap ter voorbereiding van die dagvaarding wat op De Ruyter bedien sal word.