Amushelelo se verhoordatums nog nie bekend nie
Die omstrede arbeidsaktivis Michael Amushelelo het vlugtig in die landdroshof in Katutura verskyn saam met sy medebeskuldigdes Dimbulukeni Nauyoma en Inna Hengari. Sy prokureur Kadhila Amoomo sê die staat kon nie die verhoordatum bevestig nie en dus is die saak uitgestel tot volgende week Dinsdag. Amushelelo verskyn in sy derde arbeidsaak, die een in verband met die mislukte optog teen jeugwerkloosheid op Onafhanklikheidsdag. Dit is nie bekend of sy ander Windhoek-saak en die een van Walvisbaai saam met die een gevoeg sal word nie. Die aanklaer-generaal se kantoor het vroeër aangedui dat dit onder bespreking was. Dit is ook nie bekend wanneer hy in die hoërhof sal appelleer teen die weiering van sy borg nie.