Amushelelo is terug, beplan optog maar, eers hof toe

Na ‘n paar dae se stilte as gevolg van ‘n wegbreek met sy vrou in die Noorde, is die omstrede menseregte- en arbeidsaktivis Michael Amushelelo met alle geweld terug. Daar word ‘n massa-optrede op 21 Maart beplan maar hy is tans op Walvisbaai omdat hy môre in die landdroshof op die kusdorp moet verskyn op veskeie klagte na ‘n protesoptog buite Shoprite. Hy word daarvan aangekla dat hy die polisie verhinder het om hul pligte uit te voer en ook, ingevolge die wet op openbare byeenkomste, dat daar ‘n dreigement was om eiendom te beskadig sowel as om lede van die mag te beseer. Volgens die Namibiese polisie het hy wederregtelik en opsetlik versuim om te voldoen aan die bepalings soos uiteengesit in sy kennisgewing wat hy aan die polisie verskaf het om die vreedsame betoging te hou. Hy het ook met die polisie ingemeng deur te verhoed dat die lykswa wat hulle daar aangebring het, die toneel voor Shoprite verlaat. Hy is tans vry op borg van 3 000 Namibiese dollar.