Amushelelo einde Mei terug in die hof

Die saak teen die omstrede menseregte- en arbeidsaktivis Michael Amushelelo op Walvisbaai is tot 29 Mei uitgestel. Die saak spruit uit ‘n protesoptrede wat Amushelelo op die kusdorp gereël het na ‘n werker van Shoprite selfmoord gepleeg het. Dinge het handuit geruk en hy is op verskeie klagte, onder meer dat hy die polisie verhinder het om hul pligte uit te voer en ook, ingevolge die wet op openbare byeenkomste, dat daar ‘n dreigement was om eiendom te beskadig sowel as om lede van die mag te beseer, aangekla. Volgens die Namibiese polisie het hy wederregtelik en opsetlik versuim om te voldoen aan die bepalings soos uiteengesit in sy kennisgewing wat hy aan die polisie verskaf het om die vreedsame betoging te hou. Hy het ook met die polisie ingemeng deur te verhoed dat die lykswa wat hulle daar aangebring het, die toneel voor Shoprite verlaat. Hy is tans vry op borg van 3 000 Namibiese dollar wat verleng is.