Amper 100 sterf weens hittegolf in Indië

Die hittegolf in twee van Indië se digbevolkste state, Uttar Pradesh en oostelike Bihar, het die afgelope paar dae minstens 96 lewens geëis. Amptenare sê al die slagoffers was ouer as 60 en het aan gesondheidstoestande gely wat moontlik deur die intense hitte vererger is. Data van Indië se departement van meteorologie toon die maksimum temperatuur in Bihar was gister 43 grade Celsius. April, Mei en Junie is gewoonlik die warmste maande in Indië voordat die moesonreën laer temperature bring.