Amerikaners haal (weer) 737 Max uit diens uit

Die Amerikaanse lugrederyreguleerder het beveel dat Boeing 737 Max 9-stralers onmmiddellik uit diens gehaal word na ‘n insident tydens ‘n Alaska Airline-vlug. ‘n Paneel by die venster is op 16 000 voet, terwyl die vliegtuig besig was om op te styg, uitgeruk. Niemand is in die voorval beseer nie en die vlug het ‘n noodlanding in Oregon, waarvan hy opgestyg het, gemaak. ‘n Totaal van 171 vliegtuie en meer as 60 vlugte word geraak. Inspeksies moet uitgevoer word. Dit is nie die eerste keer wat Boeing in die sop is oor sy 737 Max nie. In Oktober 2018 het ‘n 737 Max in die Java-see neergestort en al 189 mense aan boord gedood. In Maart 2019 is 157 passasiers dood toe ‘n Max net buite Addis Abeba neergestort het. Daar is bevind dat loodse nooit ingelig is oor ‘n veiligheidsmeganisme tydens opstyg nie. Dit het die vliegtuig se neus afgedwing as die opstyg baie steil was.