Amerikaanse Geheime Diens se direkteur bedank
Die direkteur van die Amerikaanse Geheime Diens, Kimberly Cheatle, het bedank, berig AP. Dit kom ná woede van beide Republikeine en Demokrate oor of haar agentskap Donald Trump voldoende beskerm het in die aanloop tot die sluipmoordpoging op hom. Cheatle tree uit ‘n dag na ‘n rampspoedige verskyning voor die Huis se toesigkomitee. Wetgewers van albei partye was gefrustreerd oor haar onvermoë om heelwat vrae te beantwoord oor die skietery waarin Trump gewond is. ‘n Ondersteuner by sy saamtrek in Butler, Pennsilvanië het gesterf en nog twee mense is gewond. Na haar verskyning het die top-demokraat op die komitee en die Republikeinse voorsitter Cheatle se bedanking gevra.