Amerikaanse bank-owerhede tree vinnig op ná ineenstorting

Bank-owerhede in Amerika het vinnig opgetree om vertroue in die land se bankstelsel te herstel na die ineenstorting van Silicon Valley Bank in Kalifornië en die sluiting van Signature Bank in New York. Kliënte het van vandag weer toegang tot hul deposito’s terwyl ‘n nuwe gerief vir noodfinansiering vir banke opgestel word. Die sluiting van die twee banke is die grootste ineenstorting van banke in Amerika sedert die sluiting van Washington Mutual in 2008 op die hoogtepunt van die globale finansiële krisis. Die jongste ineenstortings kan gekoppel word aan beide die banke se oormatige blootstelling aan aanvangs-maatskappye in die tegnologie-sektor en kripto-geldeenhede. President Joe Biden het in ‘n verklaring die optrede beskryf as ‘n vinnige oplossing om Amerikaanse werkers en klein ondernemings te beskerm, en die finansiële stelsel veilig hou.