Alweendo vergader vandag op Uis oor litium-chaos

Die Namibiese minister van myne en energie Tom Alweendo sal vandag besoek aflê op Uis om met die gemeenskap te vergader oor hulle besware oor die Chinese Xinfeng-litiummyn in die gebied. Die projek is in omstredenheid gehul met berigte dat die Chinese die litium uitvoer vir hulle eie gebruik by hulle aanleg in China en nie vir toetsdoeleindes, soos ooreengekom, nie. Die gemeenskap sê die projek is onwettig en daar is ander onwettige ontginning in die gebied. Die woordvoerder van die ministerie, Andreas Simon, sê Alweendo kan nie kommentaar oor die aantygings lewer nie – hy moet eers met die gemeenskappe vergader.

In Januarie, is 15 mans in hegtenis geneem vir die onwettige mynbou van litium by die Namibiese weermag se lugmag-opleidingsbasis op die plaas Etiro-Oos by Karibib. Intussen ontken die Xinfeng-groep enige ongerymdhede. Hy sê hy verskaf werk aan 285 Namibiërs en bly toegewyd aan sy beloofde belegging van 500 miljoen Namibiese dollar om ‘n aanleg plaaslik, met ‘n ontsoutingsfasiliteit, op te rig. Hy ontken ook enige aantygings van omkopery en korrupsie. Daar is ‘n verbod, sedert November verlede jaar, op die uitvoer van litiumerts.