Alle oë op China se tuig wat weer op 25 Junie moet land

China se Chang’e-6 het monsters wat dit van die maan se verste kant af versamel het na ‘n ruimtetuig in ‘n wentelbaan om die maan oorgedra. Nadat die monsters ontvang is, sal die onbemande ruimtetuig terug na die aarde vlieg, met ‘n verwagte landing in China se Binne-Mongolië-streek op 25 Junie. Indien dit suksesvol is, sal China die eerste land wees wat ooit maanmateriaal terugstuur van die kant van die maan wat permanent weg van die aarde gedraai is. Die suksesvolle oordrag van die kosbare monsters, wat wetenskaplikes hoop meer oor die oorsprong van die sonnestelsel kan openbaar, kom terwyl Amerika toenemende kommer uitspreek oor die vooruitgang in China se maan- en ruimteverkenningsprogramme.