Alle Aussie oë vanoggend op Barty in Ope

Wêreld nommer een Ashleigh Barty het vandag ‘n kans om die eerste plaaslike vrou in 42-jaar te word wat die Australiese Ope wen, wanneer sy om half-elf plaaslike tyd teen die Amerikaner Danielle Collins te staan kom. Barty het vir die eerste keer tot die eindstryd deurgedring nadat sy twee Grand Slams by Roland Garros in 2019 en Wimbledon verlede jaar gewen het. Collins se beste Grand Slam-vertoning was in 2020 toe sy die kwarteindronde van die Franse Ope haal. In die manseindstryd sal die 20-malige major-wenner Rafael Nadal van Spanje en die Russiese topgekeurde Daniil Medvedev môre mekaar die stryd aansê.