Allan Donald verlaat Bangladesj na kritiek
Die voormalige Protea-held, Allan Donald, gaan sy posisie as snelbouler-afrigter van Bangladesj na die Wêreldbekertoernooi verlaat nadat hy krities was oor die kaptein, Shakib Al Hasan, se rol in die omstredenheid oor tydverspilling. Al Hasan het geappelleer vir die paaltjie van die Sri Lankaanse veteraan Angelo Mathews omdat dit hom langer as die voorgeskrewe twee minute geneem het om slag te bied nadat sy kopskerm se band gebreek het. Donald sê hy was geskok en die voorval het Bangladesj se kliniese vertoning oorskadu. Sy werkgewers was ongelukkig oor sy openbare kritiek.