Al hoe minder Britte is Christene

Daar is ʼn merkbare afname in die aantal mense in Engeland en Wallis wat hulleself as Christene beskou en hulle verteenwoordig nou vir die eerste keer minder as die helfte van die bevolking. Dit is volgens data in die Sensus van 2021. Ongeveer 46,2 persent beskryf hulleself as Christene –  ʼn daling vanaf die 59,3 persent in 2011. Daarby beskou 37,2 persent hulleself as glad nie godsdienstig nie, in vergelyking met die vorige 25,2 persent. Daar is ook stygings merkbaar in die aantal mense wat hulleself as Moslem of Hindoe beskryf. Die aartsbiskop van York sê die tyd is verby toe mense byna outomaties as Christene geïdentifiseer het.