Aktiveer droogteversagting-planne: Hidrologiese Diens
Die Namibië Hidrologiese Diens waarsku dat die watervlakke van sommige van die land se grensriviere baie laag is vir hierdie tyd van die jaar, net soos meeste van die land se groot damme. Die diens sê ‘n hidrologiese droogte is op hande en raai sterk aan dat gebeurlikheidsplanne vir droogteversagting geaktiveer moet word. Die watervlak van die Zambezirivier by Katima Mulilo het van 1,33m gister tot 1,32m vanoggend gesak. Die Okavangorivier by Rundu was bestendig op 5,34m. Die Kunenerivier by Ruacana het ‘n vloei van 360 kubieke meter per sekonde aangeteken. Die watervlakke van die Benede-Oranjerivier by Blouputs was vanoggend 46cm, effe laer as gister se vlak van 51cm. By Sendelingsdrift is ‘n watervlak van 40cm gemeet, wat ook laer was as die vorige meting van 42cm. Die vrygestelde water vanaf die Vanderkloofdam het reeds Blouputs en Sendelingsdrift bereik.