Akteur Alex Baldwin vrees sy Hollywood-loopbaan is verby

Die Amerikaanse akteur, Alec Baldwin, vrees sy Hollywood-loopbaan is iets van die verlede, as gevolg van die noodlottige skietvoorval op ‘n filmstel. Die kinematograaf Halyna Hutchins is in Oktober dood toe sy met ‘n vuurwapen wat in ‘n toneel gebruik is, geskiet is tydens die verfilming van Rust in Nieu-Mexiko. Die 63-jarige Baldwin het gesê hy weet steeds nie hoe skerppunt-ammunisie in die vuurwapen gesit is nie, maar hou vol hy het net die wapen oorgehaal en nie die sneller gedruk nie. Hy sê hoewel hy nie skuldig voel nie, het Hutchins se dood emosionele letsels by hom gelaat.