Agterplaas-plakkers kan nie dienskoste van Farm 37 bekostig nie

Die sogenaamde ‘agterplaas-huurders’ in Walvisbaai sê hulle sukkel om bydraes te maak om die erwe op Farm 37 te diens. Die ooreenkoms met die meer as duisend lede van die groep, is dat hulle 380 Namibiese dollar maandeliks moet betaal om Farm 37 te ontwikkel dat hulle dan daar hervestig kan word. Die eerste fase van die diens van erwe in die gebied beloop ongeveer 1,5 miljoen dollar. Die groep sê hulle kan nie hulle huidige lewenskostes en huurgeld bekostig nie en dus is die 380 dollar betaling heeltemal buite bereik. Hulle vra dat hulle eerder daar hervestig word en 15 dollar maandeliks betaal met die doel om geld te spaar en dan die diens van die erwe moontlik maak. Die munisipaliteit het nog nie gereageer nie.