Afrika se olifantgetalle daal met 70 tot 90%

Afrika se getal woud- en savanna-olifante het die afgelope 50 jaar met onderskeidelik 90-persent en 70-persent afgeneem. Dit is volgens navorsing wat in die vaktydskrif, Proceedings of the National Academy of Science, gepubliseer is.  Die studie het data gebruik van 475 bevolkingsopnames wat tussen 1964 en 2016 in 37 lande gedoen is. Doktor Dave Balfour van die Nelson Mandela Universiteit wat een van die medeskrywers van die navorsing was, sê die afname word toegeskryf aan stroping vir ivoor, verlies aan natuurlike habitat weens landbou-uitbreiding, en fragmentasie.