Afrika-lugvaart projek sal goed wees vir verbruikers

Namibië gaan deelneem aan die sogenaamde Single African Air Transport-mark, wat na verwagting ‘n 27 persent vermindering in lugtariewe sal meebring, byna 600 000 werkgeleenthede sal skep en 4,2 miljard Amerikaanse dollar by die vasteland se bruto binnelandse produk sal voeg. Volgens Toska Sem, die uitvoerende direkteur van die Namibiese Burgerlugvaartowerheid, is die bedoeling om weg te doen met bilaterale lugdiensooreenkomste, met ‘n ekonomiese integrasie van onderskeie Afrika-lande onder mekaar. Dit sal meer keuses aan verbruikers bied en bydra tot verbeterde interkonnektiwiteit binne Afrika. Lande wat aan die loodsprojek deelneem is Kenia, Ethiopië, Rwanda, Suid-Afrika, Kaap Verde, Ivoorkus, Kameroen, Ghana, Marokko, Mosambiek, Namibië, Nigerië, Senegal, Togo en Zambië.