Adjunkminister en sy 7 passasiers lig beseer na ongeluk in amptelike voertuig

Die adjunkminister vir gemarginaliseerde gemeenskappe, Royal /Ui/o/oo was Sondagaand in ‘n motorongeluk nadat die amptelike voertuig wat hy bestuur het, na bewering ‘n vragmotor se sleepwa op die B8-pad buite Grootfontein getref het. Nampol se streeksbevelvoerder vir Otjozondjupa, kommissaris Heinrich Tjiveze, sê die minister het geringe beserings opgedoen. Die minister en sy sewe passasiers is almal kort ná die ongeluk in die Grootfontein-staatshospitaal opgeneem. Die ongeluk, wat omstreeks elf-uur Sondagnag plaasgevind het, was ongeveer 8 kilometer uit Grootfontein. Beide die vragmotor en /Ui/o/oo se voertuig het uit dieselfde rigting gekom en agter mekaar na Grootfontein gery toe die ongeluk plaasgevind het.