Aardverwarming weer in fokus by VN

Aardverwarming duur voort, ten spyte van herhaalde waarskuwings en die  komende week sal wêreldleiers by die Verenigde Nasies in New York oor die kwessie – onder andere – vergader. Die klimaatambisieberaad wat deur die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, op 20 September byeengeroep is, het ten doel om baanbrekende klimaataksie te belig wat verder gaan as wat lande reeds onderneem het om te doen in hul planne om teikens ingevolge die Parys-ooreenkoms van 2015 te bereik. Die VN het tot dusver nie die lys van deelnemers aan die beraad wat op die kantlyn van die VN se Algemene Vergadering plaasvind in die openbaar aangekondig nie, alhoewel Selwin Hart, spesiale raadgewer van die sekretaris-generaal oor klimaataksie, opgemerk het dat daar meer as 100 lande belangstellings getoon het.