Aanvalle op toeriste ‘bekommer regering’

‘n Aanval op ‘n middeljarige Italiaanse egpaar vlak voor hul hotel in Swakopmund is besig om opslae te maak in die land se toerismebedryf. Die paartjie is aangeval deur drie mans in ‘n swart Honda Fit, waarna die man in die kar geboender en later in Mondesa afgelaai is. Hy is beseer in die voorval en hulle is van kontant sowel as kameras en juwele van sowat 95 000 Namibiese dollar beroof. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met die toerisme-ministerie se woordvoerder, Romeo Muyunda, wat sê die regering is bekommerd oor die aanvalle op toeriste en werk hard saam met plaaslike owerhede om dit te probeer bekamp.