Aandklokreël in Bangladesj na betogings-sterftes

Die regering van Bangladesj het ‘n landwye aandklokreël ingestel nadat verlede week se botsings tussen studentebetogers en die polisie minstens 105 lewens geëis het. Militêre magte is ook ontplooi nadat die polisie nie die dodelike opstand wat regoor die land uitgebrei het, onder beheer kon kry nie. Die onluste het aanvanklik uitgebars oor kwotas wat 30-persent van die staatsdiensposte uithou vir die families van die mense wat geveg het vir onafhanklikheid van Pakistan. Dit is aangevuur deur hoë werkloosheid onder jongmense wat byna ‘n vyfde uitmaak van die bevolking van 170-miljoen.