Uitvoere van vis styg, sowel as vispryse
Uitvoere van vis het vir die negende opeenvolgende maand toegeneem, met ‘n 60,2 persent verhoging op ‘n jaargrondslag in Mei. Uitvoere het van 697 miljoen Namibiese dollar in Mei 2022 tot 1,1 miljard dollar in Mei vanjaar gestyg, met die meeste van Namibië se vis-uitvoere na Europa en SAOG-lidlande. In Julie is die jaarlikse styging in vispryse gemeet op 12,6 persent. Dit is hoër as die verhoging van 11,7 persent wat in Junie aangeteken is, maar laer as die 13,3 persent wat in Mei aangeteken is. Volgens Simonis Storm se landbouverslag van Julie is dit die hoogste vlakke wat vis-inflasie bereik het sedert Oktober 2017. Dit is waarskynlik as gevolg van die visvangbedryf se afhanklikheid van brandstof en die feit dat die prys van nette en toue wat gebruik word om die vis te vang, saam met die prys van olie beweeg. Gedurende Julie het Brent se prys inderdaad met 14,23 persent op ‘n maandgrondslag gestyg. Hierdie hoër koste vir noodsaaklike materiale wat in die visvangbedryf gebruik word, word dan aan verbruikers deurgegee as hoër vispryse.