Tweejarige sterf ná sy pa glo sy kop teen betonpaal slaan

‘n Man op Otavi is in hegtenis geneem nadat hy sy tweejarige seuntjie wreed aangerand het wat daarna aan sy kopbeserings beswyk het. Na bewering het die pa sy  seun sonder enige argument gewelddadig uit die 24-jarige ma se arms gegryp en die huis met die kind verlaat. Volgens die getuie het pa die kind na die spoorlyn geneem waar die getuie glo gesien het hoe hy die kind se kop twee keer teen ‘n betonpaal langs die spoorlyn slaan. Die man het daarna die kind neergegooi en gevlug. Die kind is deur die getuie na Otavi-staatskliniek geneem vir behandeling. Die seuntjie het ernstige kopbeserings opgedoen en is na die Otjiwarongo-staatshospitaal oorgeplaas waar hy aan sy beserings beswyk het. Die oorledene is geïdentifiseer as Jason Muronga. Die verdagte sal Maandag in die Otavi-landdroshof verskyn.