Inkomstediens verseker likwidasie van Gupta-maatskappy

Die Konstitusionele Hof in die buurland het ‘n appèl van direkteure wat by die Gupta-gekoppelde maatskappy Regiments Capital betrek is, van die hand gewys. Dit baan die weg vir die likwidasie van die maatskappy. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het die appèl-aansoek teengestaan ná die Appèlhof ‘n vroeëre beslissing van die hooggeregshof teen die likwidasie omgekeer het. Regiments Capital staar aanklagte van betrokkenheid by twyfelagtige tenders en die misbruik van sy filiaal se raadgewende rol by die Transnet-pensioenfonds in die gesig. Die kommissaris van die Inkomstediens, Edward Kieswetter, sê hulle is vasbeslote om belastingbetalers vas te vat wat nie hulle belastingverpligtinge nakom nie. Die maatskappy skuld die Inkomstediens 690 miljoen Suid-Afrikaanse rand.