BoN skort Trustco Bank se banklisensie tydelik op
Die Bank van Namibië het Vrydag na oorleg met die minister van finansies en openbare ondernemings, Ipumbu Shiimi, besluit om die magtiging van Trustco Bank Namibia om as bankinstelling te funksioneer, met onmiddellike effek op te skort. Die skorsing is tydelik en onderhewig daaraan dat Trustco Bank sekere gestipuleerde gevalle van nie-nakoming regstel binne ses maande vanaf 18 Augustus. In die geval dat Trustco Bank aan die einde van die opskortingstydperk nie voldoen aan geïdentifiseerde bepalings van die Wet op Bankinstellings nie, sal die Bank van Namibië verdere stappe neem soos volgens die wet. Die sentrale bank sê in ‘n mediaverklaring dat die besluit om Trustco Bank se lisensie op te skort, onafhanklik geneem word van die voortgesette litigasie waarby Trustco Bank en die reguleerder in die hooggeregshof betrokke is. Sodanige hofsake sal voortgaan soos beplan.