Heli-ongeluk: Direktoraathoof sê reëls is oortree
Die hoof van die direktoraat van vliegtuigongeluk-ondersoeke in die vervoerministerie, kaptein Magnus Abraham, het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat oor die voorlopige verslag van die noodlottige helikopter ongeluk aan die kus. Abraham het bevestig dat dit voorkom asof lugvaart-regulasies oortree is omdat die helikopter vanuit Suid-Afrika na Namibië toe gebring is sonder dat dit lugwaardig is.
Die tuig was steeds onder sy Suid-Afrikaanse registrasie van ZS-HLG alhoewel sy eienaars, Golden Game cc, wat op Mariental deur Johan en Kobus Lombaard besit word, aansoek gedoen het vir die plaaslike roepsein, V5-HGG. Die aansoek is nooit deur Golden Game voltooi nie. Die helikopter het sy 12-jaarlikse onderhoud ondergaan en is vir verskeie toetsvlugte geneem, ook op 14 en 15 Julie. Die toetsvlug op die noodlottige dag was om rotor-balansering te toets. Een van die rotors het die stert getref en die loods, die 54-jarige Jacques Jacobs en die 29-jarige lugvaartingenieur Dirk von Weidts, is albei dood. Jacobs het ‘n geldige lisensie gehad.