Ramokgopa en Alweendo gesels vandag
Suid-Afrika se minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, kom vandag in Namibië aan met ‘n groot afvaardiging wat amptenare van Eskom insluit. Ramokgopa sal vergader met sy Namibiese eweknie, Tom Alweendo. Verteenwoordigers van NamPower, Namcor, en die groen-waterstof-kantoor sal ook deel van die gesprekke wees. Namibië voer tans elektrisiteit vanaf Suid-Afrika deur NamPower in. Die land het sy vaste elektrisiteitsverbruik van Eskom met die helfte verminder en gebruik nou net 100MW. Ramokgopa was in Januarie ook in Namibië maar het samesprekings met die kommissaris van groen-waterstof, James Mnyupe gevoer in verband met ‘n groen-waterstofkorridor. Suid-Afrika ontwikkel ook ‘n groen-waterstof projek by Boegoebaai op die verre noordweste kus.