SAOG-waarnemerspan reeds in Zim ontplooi
Die waarnemersending van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap bevestig hy het sy lede regoor Zimbabwe ontplooi voor volgende Woensdag se verkiesing. Die sending streef daarna om verkiesings volgens die gemeenskap se beginsels te evalueer en te verseker die samelewing neem deel, om geweld te voorkom, media-toeganklikheid te verseker en te waarborg die uitslae word aanvaar. Die sending het sy kommer uitgespreek oor ‘n artikel in ʼn staatsbeheerde publikasie waarin ‘n regeringswoordvoerder waarnemers waarsku. Opposisiepartye wil die regerende Zanu-PF uit die kussings lig te midde van ernstige ekonomiese uitdagings. Vorige verkiesings is deur geweld gekenmerk.