Kunsmatige intelligensie al hoe belangriker vir boere
Kunsmatige intelligensie neem die landbousektor oor namate boere poog om bedrywighede te optimaliseer deur data-gebaseerde besluite. Kenners meen kunsmatige intelligensie kan oplossings bied vir boerdery-uitdagings, soos uiterste weersomstandighede, beurtkrag, stygende insetpryse, brandstofkoste en klimaatsverandering. Volgens die Universiteit Stellenbosch se ekonomiese navorser, Johann Kirsten, speel kunsmatige intelligensie ‘n belangrike rol in die advies- en inligtingsfeer, met betrekking tot die hantering van siektes en plae, en die toediening van chemikalieë, plaagdoders en medisyne.