GRN antwoord nie op rooilyn hofstukke nie

Die Namibiese regering het versuim om teen 16 Junie te antwoord op die leier van die Affirmative Repositioning-beweging Job Amupanda se hofaansoek dat hy die sogenaamde rooilyn onwettig wil laat verklaar. Die regering moes aangedui het dat hy die saak sal teenstaan. Ampunda se stukke is reeds op 26 Mei ingedien. Hy wil die regering dwing om die veterinêre kordonheining te verwyder. Die saak spruit uit die konfiskering van vleis wat hy in Omuthiya gekoop het en deur die Oshivelo padblokkade wou neem op 17 Mei. Hy eis dat die heining binne 90 dae verwyder moet word. Luidens sy stukke, sou die regering nie antwoord gee nie, moet die hof in sy guns beslis. Hy meen die rooilyn diskrimineer teen boere in die verre Noorde.