Niger: Kommer oor Bazoum se toestand, bystandsmag daargestel

Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Antonio Guterres, het sy kommer uitgespreek oor die omstandighede waaronder die afgesette president van Niger, Mohamed Bazoum, en sy gesin aangehou word. Hy het gereageer op berigte dat die President sonder elektrisiteit, water, kos of medisyne aangehou word sedert sy regering laat in Julie in ‘n militêre staatsgreep uit die kussings gelig is. Guterres het opnuut gevra dat Bazoum onmiddellik en onvoorwaardelik vrygelaat word, en heraangestel word as staatshoof. Guterres se verklaring kom te midde van ‘n noodvergadering deur die VN, die Afrika-unie en Ecowas in die Nigeriese hoofstad, Abuja. Intussen berei Ecowas ‘n bystandsmag voor en die Ivoorkus is die jongste Afrika-land in die gebied wat ook troepe, 1 000, bygevoeg het.