China se ekonomie sukkel om te herstel

China het skerp dalings in sy in- én uitvoere aangeteken. Die land se ekonomie sukkel steeds om ná die Covid-pandemie te herstel. Uitvoere was in Julie 14,5 persent laer as ‘n jaar gelede, terwyl invoere op ‘n jaargrondslag met 12,4 persent gedaal het. China se klante wêreldwyd bestee minder weens hoër inflasie en rentekoerse. Binnelandse verbruiksbesteding het ook afgeneem, ondanks pryse wat laer neig weens hoë voorraadvlakke. Werkloosheid onder die jeug het toegeneem en die behuisingsektor beleef ‘n krisis. Die regering was volgens berigte egter tot dusver nog traag om maatreëls in te stel, wat die ekonomie kan stimuleer.