Hofgeding kos opposisie partye amper N$500 000
Opposisiepartye wat die Speaker van die Nasionale Vergadering, professor Peter Katjavivi en President Hage Geingob in 2021 hof toe gesleep het oor die aanstelling van die direkteur-generaal van die Teenkorrupsie-kommissie en sy adjunk sal byna 500 000 se regskoste moet betaal. Sewe opposisiepartye het die grondwetlikheid betwis van die proklamasie wat deur Geingob uitgereik is. Dit het ‘n spesiale sitting van die Nasionale Vergadering vereis wat gelei het tot die bekragtiging van Paulus Noa en sy adjunk advokaat Erna van der Merwe vir nog vyf jaar. Hoërhofregter Collins Parker het in Augustus 2021 beslis die saak kwalifiseer nie om op ‘n dringende basis aangehoor te word nie. Die aansoekers en die respondente het Donderdag met die registrateur Nicole Januarie vergader om te bepaal hoe die hofkoste van 446 649 dollar afgehandel sal word.