Zim-leier spreek ondersteuning vir Rusland se oorlog uit

Zimbabwe se President Emmerson Mnangagwa het openlik sy steun vir Rusland se inval in die Oekraïne verklaar. Mnangagwa het op die kantlyn van die tweedaagse Rusland-Afrika Ekonomiese en Humanitêre Forum in St. Petersburg gepraat en het die tweede Afrika-leier geword wat hom openlik aan Rusland se kant skaar. Terwyl die meeste Afrika-lande ‘n middel-van-die-pad-benadering gevolg het, meestal deur hulle van die Verenigde Nasies se resolusies oor die aangeleentheid te weehou, het slegs Eritrea ter ondersteuning van die inval gestem. Kenners meen Mnangagwa het fouteer veral as gevolg van die Westerse sanksies wat sy land mee te kampe het en ook die erge ekonomiese uitdagings wat die land in die gesig staar. Daar is vroeër berig President Vladimir Putin het ‘n presidensiële helikopter aan Mnangagwa geskenk.