Inter-party-samewerking kritiek vir veiligheid
Die minister van internasionale betrekkings Netumbo Nandi-Ndaitwah, sê een van die sleutel-aspekte van die aanspreek van internasionale veiligheid in die lig van geopolitieke onstabiliteit is inter-party-samewerking. Nandi-Ndaitwah, ook die adjunk-president van Swapo, het tydens die Afrika-Rusland-beraad beklemtoon dit is omdat partye politieke instellings is wat nader aan die mense op grondvlak is. Sy sê geopolitieke onstabiliteit is ingewikkeld en kan te wyte wees aan baie faktore, insluitend territoriale geskille, ideologiese verskille, mededinging oor hulpbronne en die verspreiding van wapens vir massa-vernietiging. Nandi-Ndaitwah sê internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies, streeksveiligheids-meganismes en bilaterale alliansies word gestig om ‘n deurslaggewende rol te speel in die fasilitering en versterking van samewerking, die oplossing van geskille en die voorkoming van konflikte. Die St. Petersburg-beraad loop vandag tot ‘n einde.